Vertaling sit nie in enigiemand se broek nie

Vertaling sit nie in enigiemand se broek nie

[Om ’n stuk vir die verhoog aan te pas sit nie in enige iemand se broek nie. Dit kom met baie uitdagings. LIP het met Waldemar Schultz, Deon Opperman, Tetius Kapp en Nico Scheepers gesels oor wat presies die vertaling- en verwerkingsproses in teater behels.]

’n Vertaler en verwerker se grootste uitdaging is die lengte van die teks en hoe om dit te verkort. Dit is belangrik om in gedagte te hou wie jou gehoor is en om die storielyn se boodskap nie in die verkortingsproses te verloor nie. Waldemar Schultz erken dat Fiela se Kind moeilik was om te verkort en steeds die storielyn te behou. Volgens Tertius Kapp, vertaler van die Buite Blaf die Honde Swart en Herzog Pryswenner, het hy eerder die spreekbeurte stuk-vir-stuk verkort.

’n Ander uitdaging is die aanpassing van taal. Vir Nico Scheepers, vertaler en regisseur van Hemelruim, is dit maklik om agter te kom as woorde nie gemaklik uit die akteur se mond vloei nie. “Dit is noodsaaklik om ’n teks nie soos ’n vertaling te laat klink nie,” sê hy. Daarom is dit ook moeilik om die regte vertaalekwivalent te kry wat by die spesifieke spraakstyl pas. In produksies soos Fiela se Kind, wat in die 1870’s afspeel, het die mense van daardie tyd meestal Nederlands gepraat. “Die roman is bietjie verouderd, en ek het my teks effens gemoderniseer deur ’n mengsel van die boek, die film en die verhoogstuk te kombineer vir die gehoor van vandag,” sê Schultz. Kapp het die taal van een van  Buite Blaf die Honde Swart se karakters verder aangepas na ’n meer Engelse spraakstyl met ’n Nederlandse aksent, omdat die gehoor nie in die vorige optredes die Afrikaans-Nederlands so goed verstaan het nie..

Scheepers sê dat ’n produksie moet sin maak: “Dit is belangrik om jou teks op so ’n manier te vertaal, dat jou ligging, konsep en karakters bymekaar pas. Hemelruim se ligging is na Kaapstad verplaas en dus is die dorpe na Bellville en Franschoek verander.” Daarom is Hemelruim se karakters se name ook verander. “Dit sou nie sin maak om ’n karakter se naam ‘Mariaan’ te noem as sy ’n Engelse burger is nie,” sê hy.

Nie alle tekste word egter verwerk nie. Al is NP van Wyk Louw se Raka op ’n moderner manier uitgebeeld, is die teks volgens Deon Opperman net so gebruik soos wat jy dit in die boek sal lees. “Wie sal nou aan NP van Wyk Louw se woorde verander, dis mos absurd.” Vir Opperman sit die krag van teater in die gebruik van verbeelding. Om verbeelding aan te wakker, moet die betekenis van woorde suksesvol oorgedra word. “Teater steun op die woord ten opsigte van uitbeelding, en Raka se woordgebruik is die spilpunt van die boodskap,” beweer Opperman.

“Die grootste fout, wat iemand kan maak, is om ’n vertaler en verwerker te sien as nét ’n vertaler en verwerker,” sê Scheepers. Dit is kommunikasie tussen woord, verbeelding en die gehoor. Sonder vertaling en verwerking, sal die wêreldliteratuur binne sy eie grense stagneer. – Bea Lingenfelder

(Foto: Bea Lingenfelder)

Lovelyn sê wittes sal hierdie jaar terugsit en luister

Stellenbosch. – Lovelyn Nwadeyi het gister geen doekies  omgedraai tydens haar konvokasie-toespraak in die D.F.- Malansentrum, Stellenbosch nie. Sy het aangedring dat gesprekke oor Suid-Afrika, universiteite en die toekoms, eerlik met mekaar moet wees. Volgens haar, begin dit deur te erken dat Suid-Afrika in ’n gemors sit.

Nwadeyi het die taal en rassisme-kwessie in universiteite aan die gehoor van ongeveer 2000, duidelik gemaak deur klem te lê op blankes wat eerder na die apartheidservaringe moet luister, as om dit te regverdig.

Die konvokasie is ’n statutêre liggaamwat bestaan uitalle US-gegradueerdes en alle voltydseenafgetredeakademiese personeelvandieuniversiteit.

Nwadeyi het gesê dat wit Suid-Afrikaners nooit sal verstaan wat dit beteken om rassisme te ervaar nie.

“Dit is ’n psigologiese en gewelddadige ervaring wat daagliks in elke area van ’n mens se lewe manifisteer. Witmense sal nooit verstaan hoe dit voel om ’n valse geskiedenis,  -in ’n sekondêre taal, oor jou voorvaders te leer nie en dan dag- na- dag gekonfronteer te word met standbeelde en geboue wat gestig is ter  ere van iemand wat jou as intellektueel minderwaardig beskou,” het sy gesê.

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die Skool vir Tale by Noord-Wes Universiteit en lid van US- raad, stem saam met Nwadeyi.

“Witmense kyk vanuit hulle bevoorregting hierna en verstaan nie werklik die wrewel nie.”

Hy het ook gesê Nwadeyi se uitroep dat witmense moet lúíster oor wat apartheid aan swart mense gedoen het, is van noodsaaklike belang.

Volgens Carstens het Nwadeyi deur middel van haar toespraak ’n debat begin, sodat die Suid- Afrikanres deel kan hê aan die bedink van oplossings.

Nwadeyi glo dat ’n universiteit se primêre funksie is nie om ’n taal te beskerm nie, maar eerder om hoër onderwys te voorsien.

“Afrikaans gaan nie sommer sterf as dit nie meer die hooftaal van onderrig is nie,” het sy gesê.

Sy het ook die gehoor herinner dat Afrikaans uit baie variëteite en kulture bestaan. Volgens Nwadeyi, as mense ’n Afrikaans universiteit wil verdedig, moet hulle aanvaar dat dit die beskerming van meer as 13 Afrikaanse variëteite behels.

Nwadeyi het afgesluit deur te sê dat kolonialisme en apartheid ’n rol gespeel het in die ontmensliking van Suid- Afrikaners.

“Ons moet hierdie ontmensliking  afbreek en ons geskiedenis terugeis, sodat ons kinders met die waarheid grootword. Ons moet ons taal terugeis, sodat mense ’n taal praat uit liefde en nie uit verpligting nie.”  – Bea Lingenfelder

Kennis en tale gaan hand-aan-hand volgens UWK-professor

Kennis en tale gaan hand-aan-hand volgens UWK-professor

Stellenbosch. – Prof. Bassey Antia van die Universiteit van We-Kaapland (UWK) het Donderdag in Stellenbosch nuwe insig oor die veeltaligheidskwessie in die onderrigveld gegee.

Antia, hoof van die linguistieke departement by die Universiteit van Wes-Kaapland, het by Stellenbosch Universiteit (SU) sy stem dik gemaak oor hoe belangrik dit is dat studente se kennis getoets moet word in hul huistaal.

Volgens Antia, is die meeste taalkwessies se probleme gegrond op veeltaligheid wat nie vir studente aangebied word nie. Hy stel voor dat taal as ’n hulpbron en instrument gebruik word vir toegang tot kennis, eerder as net ’n kommunikasiemedium.

Antia fokus hoofsaaklik op die onderrig van matriek- leerlinge.

“’n Vraestel wat nie in jou moedertaal is nie, toets nie die student se kennis regverdig nie. Dus word die student se potensiaal nie ten volle geakkommodeer en ontwikkel nie,” sê Antia.Volgens hom kan die student vrae beter beantwoord as hy dit in sy huistaal kan formuleer, want dit is ’n makliker proses op kognitiewe vlak.

“As jy nie die student akademies akkommodeer nie, word die evaluering van die student se kennis verhinder,” sê hy.

Antia spreek die kwessie aan of matriekvraestelle in Suid-Afrika ook in ander tale beskikbaar moet wees. Hy bevraagteken gepubliseerde studies wat beweer dat ander tale nie geskik is om matriekvraestelle in te publiseer nie.

“Om inligting in ’n ander taal as jou huistaal te verkry, vorm ’n nadeel vir die student en sy akademiese kennis,” sê hy.

Dr. Ludwig F. Punt, kurrikulumbestuurder van die Metropool Noord- onderwysdistrik, sê dat dit ideaal sal wees as alle studente hul onderrig in hul huistaal kan kry, maar daar is nog te veel nadele in die implimentering daarvan.

“Daar is wel enkele skole wat huistaalonderrig op grondslagfase gee, maar dan slaan die onderrigtaal oor na Engels. Hierdie proses veroorsaak dat die kind taalkundig baie deurmekaar is,” sê Punt.

Volgens Punt is een van die grootste probleme dat ander Afrika-tale nie oor genoeg vakterminologie beskik om suksesvol daarin te onderrig nie.

“Daar is byvoorbeeld in wiskunde nie woorde in Xhosa wat gebruik kan word nie,” sê hy.

Dit is volgens hom onmoontlik om in al die Suid-Afrikaanse tale onderrig te gee en matriekvraestelle te laat skryf, omdat daar net nie genoeg hulpbronne in daardie tale is nie: “Daar is onder meer nie genoeg onderwysers om elkeen in sy moedertaal te onderrig nie.”

Punt noem dat kandidate wie nie Afrikaans of Engels as huistaal het nie, in die afgelope matriekeksamens “met ’n 5 %- taalkompensasie gehelp is”.

’n Opmerklike verandering wat deesdae al hoe meer kop uitsteek, is dat ouers verkies om hul kinders in Engels te laat onderrig  en om Xhosa eerder net as ’n huistaalvak te neem. Die rede hiervoor, volgens Punt, is dat Engels ’n meer toeganklike taal in die akademiese wêreld is en ook meer voordelig is vir die kind se toekoms. As gevolg daarvan is daar sprake dat kinders van die grondslagfase af in slegs Engels of Afrikaans gaan onderrig word, sodat hulle die basis van wetenskaptaal eerder in Engels of Afrikaans kan leer.

Die oplossing vir Punt se waarnemings is volgens Antia dat die onderrigstelsel ’n goeie demonstrasie van kognitiewe voordele van veeltaligheid benodig wat die verhouding tussen die student se kennis-evaluasie en taal kan vasstel.

“Die student moet verkieslik meer as een taal as ’n vak neem, maar op grond van hul kennis in velde soos wetenskap wat evalueer word, is dit belangrik om die student tot sy volle kennispotensiaal te ontwikkel,” sê hy.

Antia se kern vraag wat hy by die gehoor laat, is dat ’n mens jouself ten alle tye moet vra: “Sal ek my kennis sodoende kan verbeter?” En is waarop ’n suksesvolle generasie se toekoms gebaseer word. – Bea Lingenfelder

(Foto: Bea Lingenfelder)

Die Lisa-applikasie

Die Lisa-applikasie

Onder een van haar pa se pette kruip ’n kortdaat-dame uit wat vertel dat sy dit verkies om ná oggendure haar oop toekoms aan te pak en hoekom jy haar nie sommer sal sien ’n traan pik nie. Agter Lisa Lottering, ’n studentejoernalis, lê 22 jaar vol hartsmense, seesand… en memes.

Hoewel sy nie daarvan hou om in groot groepe oor koeitjies en kalfies te gesels nie, is sy in haar natuurlike habitat tussen vriende.

Robyn Lategan, haar beste vriendin van graad agt, vertel dat Lisa op die eerste dag van hoërskool eerder alleen met haar foon in die hand teen Hoërskool Stellenberg se muur geleun het. Robyn kan nou vir Lisa op geen ander manier voorstel nie, omdat Lisa se foon haar handelsmerk geword het.

Memes– dís deel van ­Lisa se DNS.

“Haar hele lewe bestaan uit memes, foto’s en emotikons wat haar boodskap oordra. Sy’s skreeusnaaks. Sy het ’n manier om selfs ’n negatiewe storie om te swaai,” sê Robyn.

Lisa se fotolêer op haar foon lyk soos ’n toepassing waar jy memes kan aflaai: Een waar sy op die vloer lê, ’n ander met ’n sneesdoekie oor haar gesig. Dit is meestal unieke uitdrukkings van haarself, want niemand bemeester emosionele uitdrukkings so goed soos Lisa nie. Sy het ’n aanslag met woorde wat haar Instagram-profiel ophelder.

Lisa sit gemaklik met ’n paar stylvolle tekkies aan, alhoewel jy haar maklik met ’n paar Sissy Boys kan omkoop. Eintlik enige skoene, dis haar swakheid. Haar ma vertel tydens hulle uitstappies na die winkel, draai hulle brieke aan by Stuttafords, maar haar modestyl reflekteer ook in winkels soos Cotton on, Factorie en Mr. Price. Robyn beaam dit: “Sy wil dit nie erken nie, maar Lisa is eintlik ’n vreeslike ‘meisie’. Sy hou van mooi aantrek en het vir elke uitrusting bypassende skoene.”

Lisa het as kind reeds haar hardnekkige houding aangeleer. As die enigste dogter met twee broers moes sy haar man staan. Haar ma, Paulina, sê egter dat Lisa dit eerder verkies het om tussen die meisietjies te speel, al het sy en haar broers ’n hegte verhouding.

“Sy is baie streng met haar jonger boetie, daardie tipiese ouer-suster-figuur. Maar tussen-in die gestry, sit hulle langs mekaar ingeryg as die klok half sewe vir 7de Laan slaan.”

Met ’n eerlike knik, bieg Lisa dat sy nie een is wat maklik jammer sê nie, maar dit beteken nie sy kyk haar eie foute mis nie. Sy ontken nie dat sy nie hardkoppig is nie, maar sy staan beslis vir niemand terug nie.

“Ons [Robyn en Lisa] stry oor die simpelste goed, een keer op skool het ons vir twee weke nie met mekar gepraat nie, oor ’n pakkie suurwurms,” bieg Robyn.

Sy is net nie ’n baie emosionele mens nie, want jy sien, die woord “jammer” is nou nie ’n potensiële baanbreker vir ’n Instagram-opskrif nie. Eerder iets wat neig na “#sorrynotsorry”.

Lisa huil nie sommer nie, behalwe as dit by honde kom. As jy haar oorlede Misty noem, pluk jy ’n teer snaar in haar hart. Volgens haar oudste broer, Gerchwen, dink hy nie dat die familie Lisa al ooit sien huil het nie, al weet hy sy’s nie ’n klip nie.

“Ek raak heeltemal te ongemaklik in emosionele situasies, al is die meeste van my vriende oor-emosioneel. As mense huil, troos ek hulle met ’n klop op die skouer. Mense irriteer my maklik, veral in die oggend, ek moet eers kans kry om te ontdooi met ’n koppie koffie. Ek hou daarvan om alleen te wees,” verduidelik Lisa.

Lisa is iemand wat jy soos ’n  naartjie moet afskil: deel vir deel en as jy by die binnekant uitkom, leer jy haar skyfie vir skyfie ken. Eers dán besef jy sy is ’n soete en genotvolle ervaring.

Die atmosfeer wil-wil nog rustig raak, toe klap Lisa dit weg met ’n gil en sug. Bo ons is ’n sokkerwedstryd tussen Liverpool en… wie gee om; Lisa stel net belang in die rooi-geklede mans wat soos LED-liggies oor die veld flits. Sy bieg dat sy sokker eers net vir Cristiano Ronaldo gekyk het, maar die rooi hemde het met elke wedstryd haar hart al hoe vinniger laat klop.

Benewens haar entoesiasme oor Liverpool, het sy self ook sokker gespeel, asook netbal, maar moes as gevolg van ’n knie-operasie haar sport belangstelling maar op die skerms uitleef.

“Kruisligamente is ’n euwel.”

Lisa is op haar gelukkigste by die see. Sy en haar jonger boetie gaan graag saam.

“Dit laat my rustig voel, en of daar nou baie of min mense is, ek en my gedagtes kan ure op die sand spandeer. My boetie is net so lief vir die see en omdat ek so besig is met my kursus, gebruik ek die geleenthed om saam met hom tyd te spandeer. Dis my ‘treat’. Dan is dit alle fone af, maar net partykeer, tot ek weer ’n lekker idee kry.”

Lisa stel belang om in navorsingsjoernalistiek te gaan, maar haar kursus laat haar ’n ander deuntjie begin sing. Sy glimlag senuweeagtig terwyl sy sê dat sy nou eers wil fokus om die kursus deur te kom.

“Ek glo God sal vir my ’n paadjie uitlê as die tyd reg is. My plan is om ’n internskap by Smile-fm te doen. So I got that going for me, which is nice.”

Agter al die gesegdes en foto’s, het Lisa ’n streng waardesisteem waarby sy hou. God en haar familie bly eerste en deur elke individuele verhouding wat sy met iemand het, leef sy haar waardes en morele op haar manier uit. ’n Lojale vriendin is sy beslis, en haar helpende hande stuit vir niks. Die avonuurdier binne haar kom gereeld na vore met ’n hashtag of twee van bergklim-, put-put- of stampkar-uitstappie. Verder sien jy haar in haar element op sosiale media. Eintlik is Lisa haar éie element, en haar éie emotikon, én haar eie toepassing. Sy is éie aan haarself.

Gaan kry vir jou die Lisa-app, nou.

(Foto: Lauren Klaasen)

Studente sing ander deuntjies as Eiendomsagente

-Bea Ligenfelder

Stellenbosch. – Neelsie-eiendomme sê hulle het nog nie van tevore enige klagtes onvang van huurders nie en volg die korrekte stappe wanneer daar kontrak opgestel word; studente sing egter ’n ander deuntjie.

Dit is geen geheim dat studente dikwels ’n negatiewe houding teenoor eiendomsagentskappe in Stellenbosch het nie. Studente vertel graag van hul slegte ervarings met ’n enkele eiendomsagent. Een voorval verander dikwels in ’n kettingreaksie waaronder onskuldige agentskappe dan ook kan ly.

“Toe ons vir die eerste keer daar wou intrek, is daar vir ons gesê dat die plek professioneel skoongemaak word voordat ons intrek; dit was egter nie die geval nie,” vertel Janie du Plessis, ’n joernalistiek-honneursstudent van Stellenbosch. Sy beweer dat Neelsie-eiendomme aan die einde van 2014 haar deposito onwettig weerhou het, omdat die skade waarvan hulle haar beskuldig, reeds vroeër deur haar op ’n klagtelys ingevul is.

“Ek het ’n minimum van vyf klagtes deur die jaar gaan lê oor toestelle wat buite werking was, byvoorbeeld die stoof se knoppe en die televisie wat nie gewerk het nie,” sê Du Plessis. Die agentskap het ook vir haar gesê dat sy die woonstel nie netjies agtergelaat het nie, maar Du Plessis hou vol dat sy en haar ma self die woonstel skoongemaak het.

Neelsie-eiendomme ontken egter dat hulle skuldig is aan Du Plessis se bewerings. Cornelia Nel, ’n eiendomsagent van Neelsie-eiendomme, het as vol reageer: “Studente betaal ’n deposito as sekuriteit ingeval dat daar enigiets verkeerd gaan in die woonstel binne die tydperk wat hulle dit huur.”

Nel sê dat die terugbetaling van ’n deposito afhang van die toestand waarin die huurder die woonstel agterlaat en dat studente dikwels omgekrap is, omdat hulle skoonmaakproses nie altyd aan die vereistes van die agentskap voldoen nie.

Die agentskap gee die huurder ’n keuse om die woonstel self skoon te maak, of om ’n gedeelte van die deposito te bestee aan skoonmaakdienste wat die agentskap reël.

“As die student egter nie goed genoeg skoongemaak het nie, moet ons ons skoonmaakdienste ook laat kom en dan word dit vanselfsprekend van die deposito afgetrek,” vertel Nel.

Mari Basson-Carstens van Anna Basson-eiendomme, is bewus van die reputasie wat agentskappe onder studente het.

“Dit is die realiteit dat daar wel gevalle van uitbuiting is. Dit is hoekom bewyse so ’n belangrike deel van die huurkontrak vorm,” vertel sy. Anna Basson-eiendomme gebruik meestal foto’s as bewyse vir hul besluite.

“Ons laat die huurders deelneem aan die voorafgaande inspeksie oor die woonstel en dan kry die huurders die geleentheid om ’n foutlys in te vul. Aan die einde van die huurkontrak neem die huurders weer aan ’n inspeksie deel, sodat alle skade en ontevredenheid duidelik gemaak kan word. Sodoende kan die huurders die toestand van die woonstel voor en na die inspeksie vergelyk,” sê Basson-Carstens.

Volgens Basson-Carstens is dit belangrik dat deeglike ondersoek oor agentskappe in Stellenbosch in te stel voordat hulle een nader om ’n blyplek te vind. Dit is veral belangrik om markpryse te vergelyk, maar dit terselfdertyd die betroubaarheid van die agentskap te oorweeg.

Deon Carstens, besturende direkteur van Anna Basson Eiendomme, lê klem op die voordeel van ’n agentskap gebruik, ten opsigte van die wetlike aspekte: “As ’n agentskap die regte en wetlike stappe tydens die huurproses volg, is dit weinig keer dat daar misverstande voorkom.”

Hy sê tog aan die ander kant, is dit ook die student se verantwoordelikheid om te weet wat sy kontrak behels en om afskrifte van foto’s en ander bewyse te maak.

Carstens sê, alhoewel hy bewus is dat studente die kommissie as ’n negatiewe aspek beskou, bly veiligheid, gemoedsrus en gerief steeds bo-aan die vereistes van ’n goeie verblyfervaring.

“Open” Stellenbosch is agter toe deure

-Bea Lingenfelder

Stellenbosch. – Tien Matie-studente is Woensdagmiddag deur die studente-organisasie, Open Stellenbosch (OS) gevra om te loop, omdat hulle by die joernalistiek-departement studeer.

Die lede van OS het tien honneursstudente vin joernalistiek van Stellenbosch Universiteit (US) uit die vergadering, “US is not yet Open”, gestem.

Die studente is daarvan beskuldig dat hulle die vergadering nie as lede bygewoon het nie, maar as joernaliste. Die studente is reeds voor die verwelkoming van die vergadering deur Majaletje Mathume, komitee-lid van OS wat die vergadering gelei het, aangespreek.

“Hy het ons gevra of ons die vergadering as individue of as ’n klas bywoon, waarop ons laasgenoemde geantwoord het,” vertel Tarryn Josephs, voormalige lid van die OS en een van die joernalistieke studente.

“Nadat hulle vir ons gesê het dat ons nie as ’n klas welkom is nie, wou ons bly uit belangstelling en het ons voorgestel dat ons geen aantekeninge sal maak nie,” sê Josephs.

Die res van die lede wat die vergadering bygewoon het, is gevra om te stem of hulle gemaklik voel met die groep studente teenwoordig, maar almal het teen die studente se teenwoordigheid gestem. As gevolg van hulle teenstand, het agt van die joernalistieke studente die vergadering verlaat.

Die twee ander studente, Nation Nyoka en Biophelo Mokgothu, het wel besluit om te bly. Hulle het egter na ’n halfuur ook die vergadering verlaat.

“Ons het onwelkom en ongemaklik gevoel, almal het ons suspisieus dopgehou.” het Mokgothu gesê.

“Die oomblik toe Nation iets geskryf het, is die vergadering gestop en vir ons gesê dat dit ontoelaatbaar is.” Nyoka het aangedui dat sy aantekeninge vir haar blog gemaak het en nie oor die vergadering nie, maar hulle het haar nie geglo nie.

“Hulle het nie eers strategieë in ons teenwoordigheid bespreek nie, ek verstaan nie hoekom net sommige mense welkom was nie,” sê Nyoka.

Patrick Kadima, voormalige leier van die Institusionele Forum van die US, is ontsteld oor dié insident. Hy beweer dat die studente onregverdig behandel is.

“Die vergadering is as ’n publieke gebeurtenis op Facebook geadverteer, maar hulle jaag mense uit as hulle nie lede is nie, dis mos nie reg nie,” sê Kadima.

Die studente voel te nagekom deur OS se reaksie en sê dit bekommer hulle dat die beweging ’n verandering wil maak as hulle potensiële lede op so ’n manier behandel.

SONA2016: Zuma kul met net die blink rand bo

SONA2016: Zuma kul met net die blink rand bo

-Bea Lingenfelder

Kaapstad. – Net soos die EFF gisteraand die staadsrede (SONA) met luide onderbrekings verlede jaar herhaal het, so voel talle ekonome dat pres. Jacob Zuma sy munte ook nie genoeg sedert 2015 omgedraai het nie.

Volgens Mmusi Maimane, DA-leier, het SONA “geen vertroue by die burgers van Suid-Afrika aangemoedig nie.” Maimane het aan eNCA gesê dat Zuma dieselfde planne vir onder meer die begroting, reeds verlede jaar voorgestel het, maar geen implimentering of vordering het daarvan gekom nie.

Een van die prominente kwessies wat Zuma in sy toespraak bespreek het, was om aan die begroting te sny, maar voorstelle soos die sny aan oorsese reise, duur etes en onthale, gaan nie ’n groot impak op die begrotingstekort maak nie,” beweer Maimane. “As ons vir die ekonomie ’n ommekeer wil vind, sal daar dapper keuses gemaak moet word.”

Verder het die onderwerp van Suid-Afrika wat net een hoofstad moet hê, nóg menigde vrae onbeantwoord gelaat.

“Zuma wys jou net die kop-kant van die muntstuk, wat op ’n positiewe noot eindig. As daar na één hoofstad verander word, gaan die infrastruktuur van die ander voormalige hoofstad moontlik ’n wit olifant word; dit veroorsaak dat ander probleme opduik.” Dit is een van die gevolge wat aan die stert-kant van die muntstuk lê, volgens Johann Marais, ’n onafhanklike finansiële adviseur.

Marais sê ook die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreld-bank wat voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie met minder as een persent hierdie jaar sal groei, gaan ’n definitiewe uitdaging wees om Suid-Afrika nie rommelstatus te gee nie. “Met die huidige wisselkoers en droogte-nood, is dit problematies dat die in- en uitvoer van voedsel en mediese goedere op ’n aanhoudende ritme ons finansieel kan uitdroog.” Volgens Kabous le Roux van Cape Talk, het die rand se waarde gedurende die staadsrede gedaal vanaf R15,70 teenoor die Amerikaanse dollar en R17,81 teenoor die euro, tot R15,84 teen die dollar en R17,95 teen die euro.

Zuma het kwessies soos “Pay back the money” en “Fees must fall” ontduik toe hy sê dat dit in die begrotingstoespraak op 24 Februarie bespreek sal word. Daar word gevolglik groot druk op die huidige minister van finansies, Pravin Gordhan, geplaas. “Wat ons nodig het, is planne en hopelik kry ons volgende week by die minister van finansies ’n groter aanduiding in daardie opsig,” sê dr. Christo Wiese, nie-uitvoerende direkteur van Steinhoff International, aan Netwerk24.

Maynardt Krüger, voormalige adjunkvoorsitter van die DA-Jeug in die Stellenbosch distrik en Studente Raad van die Universiteit van Stellenbosch, sê “Fees must fall” moet met ’n geloofwaardige perspektief aangespreek word. “Vir my as ’n student is dit onregverdig teenoor die jeug dat ons onsself elke dag in ’n omgewing bevind waar daar onnodige haat onder mekaar gekweek word, maar waar iets soos befondsing vir tersiêre onderrig, binne ’n sekere tydperk uitgesorteer kan word.”

(Meme: Bea Lingenfelder)