Millennials sê gesond is die nuwe mooi

This slideshow requires JavaScript.

As ’n mens aan die term “liggaamsbeeld” dink, kom gedagtes soos onrealistiese uitbeeldings, die media, ontevrede vrouens en verwante eetsteurnissiektes dikwels na vore. As ’n mens die term “millennials” (ook bekend as Generasie Y) hoor, laat dit jou dink aan iemand wat tussen 1980 en 2000 gebore is; of lui, bederf, tegnologie-behep en alwetend is. Sit hierdie twee terme egter saam en dit kan ’n moontlike ommekeer in die etikettering van liggaamsbeeld beteken.

Tydens ’n Amerikaanse studie wat in 2012 gedoen is, The Woman in the Mirror, is daar bevind dat uitbeeldings in tydskrifte en op televisie 69% laerskoolmeisies beïnvloed ten opsigte van hul liggaamsbeeld en 47% erken dat daardie “ideale figuur” hulle op diëte laat gaan. Dit lei tot verskeie gesondheidsgevolge soos eetsteurnisse, depressie en ’n lae selfbeeld.

Dit is egter geen geheim dat die mode- en media-industrie die groot sondebokke van hierdie liggaamsbeeldkwessie is nie, waar vrouens reeds vir meer as 20 jaar aan sosiaal aanvaarbare grense gemeet word. Die tydskrifte Seventeen en Cosmopolitan is net twee van vele wat skuldig is aan onrealistiese uitbeeldings van vroue en meisies en dat die tydskrifte grotendeels uit artikels bestaan wat oor voorkoms handel.  Oor die algemeen het vrouetydskrifte ongeveer tien keer meer inhoud wat oor diëte en gewig handel as manstydskrifte.

Millennials, waaruit die samelewing van vandag grotendeels bestaan, het die rol van die media, veral sosiale media, tot ’n groot verandering gebring wat sosiale beperkings al hoe meer bevraagteken en uitdaag.

Hoewel millennials dikwels gestereotipeer is as tegnologie-beheptes, gebruik hulle hierdie vernuf as ’n platform om met die samelewing te kommunikeer. ’n Mens kan duidelik sien hoe bewegings of veldtogte via sosiale media vlamgevat het, byvoorbeeld Bring back our girls, #Feesmustfall en ook veldtogte oor liggaamsbeeld soos Love your Curves. Deur middel van sosiale media, het millennials verskeie media-, mode-en skoonheidshuise begin aanspreek oor hul onrealistiese uitbeeldings van vrouens.

Hierdie jaar het daar vir die eerste keer plusgrootmodelle tydens die modeweek op die loopplanke verskyn. Veldtogte (aanlyn) en ambassadeurs wat liggaamstevredenheid en ’n gesonde leefstyl motiveer, het al hoe gewilder geraak en die diversiteit van figure word al hoe meer algemeen en aanvaarbaar.

Daar is reeds talle millennial-ambassadeurs wat positiewe liggaamsbeeldveldtogte regoor die wêreld begin het, bv. Gabi Fresh (#Fatkini), Virgie Tovar (Lose Hate Not Weight) en selfs die bekende onderklere handelsnaam, Victoria Secret het ’n reeks genaamd “The Perfect Body” uitgebring wat ’n groter verskeidenheid onderklere vir alle figure bied.

Een van die grootste veldtogte is die Dove real beauty-veldtog wat  in 2004 begin is. Hierdie veldtog streef daarna om die variasies van vroue se natuurlike voorkoms te vier en hulle te inspireer om gemaklik met hul lyf te wees. Met hul nuwe definisie van “mooi” is hulle vandag nog na tien jaar ’n simbool van omstredenheid. ’n Onlangse geval was toe die 21-jarige Suid-Afrikaner, Dora Mijeaux, wat die Twitterhutsmerk #ThighsForJeaux laat vlamvat het nadat sy haar volgelinge vroeër in Januarie die jaar aangemoedig het om natuurlike foto’s van hulle dye op Twitter te sit. Teen die middag was hierdie hutsmerk ’n tendens op Twitter.

“Ek is al menigte kere in die straat geteister met seksuele en afbrekende opmerkings en dit het veroorsaak dat ek my dye begin wegsteek het. Ek het net op ’n dag besluit tot hiertoe en nie verder nie,” vertel sy aan Marie Claire-tydskrif.

Volgens Mijeaux, wou sy die problematiese standaarde van voorkoms aanspreek via haar hutsmerk. Haar doel is om ’n oordeelvrye en positiewe liggaamsbeeld platform vir vroue daar buite te skep wat wys dat jou gesondheid belangriker as jou voorkoms is.

Melissa Nieuwoudt, ’n voormalige plusgrootmodel, vertel hoe mense se siening van haar weens hierdie liggaamsbeeld veldtogte, van ’n “plusgrootmeisie” na ’n “normale meisie”, verander het.

“Omdat sosiale media so ’n kragtige platform vir hierdie positiewe liggaamsbeeldbeweging is, veroorsaak dit dat mense minder afbrekende kommentaar op foto’s lewer. Ek dink ons generasie (millennials) het ’n belowende verandering begin, waaraan oor baie jare nog geskaaf en geskuur moet word.”

Carli Potgieter, ’n ambassadeur van Mia’s Training, ’n fiksheidgimnasium in Stellenbosch, stem hiermee saam, maar verduidelik egter dat hoewel sy ten gunste van hierdie positiewe liggaamsbeeldveldtogte is, hoop sy dat daar nog meer fokus op gesondheid geplaas sal word.

“Deur gereeld te oefen en gesond te eet, lei tot ’n gesonde lewe, ongeag hoe jy lyk. Daar is baie ander siektes soos byvoorbeeld diabetes wat ’n gevolg van ’n ongesonde leefstyl is. Die sleutelwoord is balans,” vertel Potgieter.

Dokter Judy Kotze, ’n dieetkundige met ’n MA in Voeding, voeg by dat hierdie veldtogte egter nie beteken dat eetsteurnisse en verwante gesondheidsiektes gaan verdwyn nie en dat simptome soos kroniese moegheid of skielike gewigsverlies nie ligtelik opgevat moet word nie.

“Onderwerpe soos hierdie is as taboe gesien, maar sosiale media wat hierdie kwessie na vore bring, is voordelig, omdat dit ’n gemeenskap vorm. Dis ons taak om ’n ondersteunende rol vir ons pasiënte te speel en om hulle te help gemaklik wees in hul eie lyf – binne en buite. Niemand moet skaam wees om oor hierdie onderwerp te praat nie.

“Ek hou daarvan om mense met vrugte te vergelyk; elke tipe vrug lyk anders, maar hulle is steeds ’n vrug. ’n Vrug is gesonder as dit nie met allerhande toksiese preserveermiddels behandel word nie en natuurlik omring word deur water en sonlig. So moet mense ook op die natuurlike en regte manier oefen en eet vir ’n beter en langer lewe,” sluit Kotze af.

Vir nog, kyk die ander kant van die kwessie: Millennial-mans glo steeds groter is beter. Daar vind min tot geen verandering in die media ten opsigte van mansliggaamsbeeld plaas nie.

Advertisements

‘n Blitsbok staan twee pare tokse vol

Die Suid-Afrikaanse sewes-rugbyspan word nie verniet die Blitsbokke genoem nie – deel ’n vyftienmanspan deur twee en jy kry ’n span wat van jou ’n man of ’n muis maak. Maar hulle moet harde klippe kou om tot hul naam gestand te doen.

Volgens Ruhan Nel, Blitsbok-senter, sit dit nie in enige man se broek om ’n sewes-rugbyspeler te wees nie, omdat die tegnieke meer spesifiek is as vyftienman-rugby en die fiksheidprogram deursettingsvermoë vereis. Aan die begin van sy sewes-loopbaan, moes Nel tot 10 kg afskud om die vlugvoetige speler te wees wat hy vandag is.

“As jy sewe op die veld is, speel jy basies in die plek van twee mense. Ons speel net sewe minute aan ’n kant, maar ons speel drie wedstryde per dag oor ’n tydperk van twee dae.

“Sewes het vir my ’n ander mentaliteit oor oefening gegee as toe ek nog vir die Lions gespeel het. Dis nie meer net van ‘tjom, kom ons gaan gym nie’; almal moet rats wees. Toe ek begin sewes speel, het ek na oefening vir my ma foto’s van my voete gestuur wat deur my tokse gebloei het.”

Gavin Beresford, afrigter van die Westelike Provinsie se hoërskool-sewesspan, sê dat spesifieke tegnieke reeds op skoolvlak in die spelers ingeoefen word, wat dit in sommige gevalle makliker maak as hulle na skool professionele sewes wil speel.

“Skoolsewes het nie soos die Blitsbokke sjefs en persoonlike fisio’s nie, omdat hulle nog moet skoolgaan. Dit leer die leerders egter om balans tussen hulle sport en persoonlike lewe te handhaaf,” verduidelik Beresford.

Nel sê dat hoewel hy ’n meisie het, hy nie sommer met ’n familie sal begin tydens sy sewes-loopbaan nie, omdat die span jaarliks na omtrent tien lande vir wedstryde reis.

“Tydens ons toer na Rio vir die [Olimpiese] Spele, het ons afrigter vir sy vrou laat belowe dat sy geen wedstryd mag kyk nie, omdat dit haar laat stres. Sy was daardie tyd hoogswanger en hy wou nie die geboorte mis nie!” het Nel gelag.

Nel glo dat een van die grootste struikelblokke wat spelers moet oorkom, behalwe beserings, is om nie vir die span gekies te word nie.

“My woonstelmaat, Chris [Dry, Blitsbok-vlank] het al 50 sewes-wedstryde gespeel, maar is nie vir die Olimpiese span gekies nie. Dis moeilik om dan nie moed te verloor nie, veral wanneer jy soos Chris as ’n legende bekroon is.”

Tydens die afseisoene, gebruik baie spelers die geleentheid om tyd saam met hulle familie deur te bring, alhoewel sommige, soos Nel, deeltyds werk of studeer vir die lewe ná rugby.

“Rugby-speel, veral sewes, is eintlik net vir ’n kort tydperk, maar die verhoudings en herinneringe bly vir altyd; dis cheesy, maar ons spelers is sagter as wat ’n mens dink.”

Oudtshoorn koester inwoners se hartsake

This slideshow requires JavaScript.

’n Mens kan nie anders as om Oudtshoorn met volstreise, Kangogrotte en die feestelike Klein-Karoo Nasional Kunstefees (KKNK) te vereenselwig nie. Maar wat is in die ander kamers van die hartjie van die Klein-Karoo; die afdraaie vanuit Baron von Reede-straat en die huise waar feesgangers doodluiters verby haas op pad na hulle volgende vertoning?

Dit is al sterk skemer. As jy skemertyd tydens die KKNK rondry, wemel die strate nog van feesgangers tussen musiektente en kosstalletjies, maar op dié Septemberaand is die dorp soos ’n herfsboom wat sy blare verloor – die lamppale is kaal en die velde plat.

In die hoekhuis van Oranjestraat skop ek en my vriend, Jacques Punt, skoene uit by die Gerstner-gesin –  tannie Bella, oom Hein, hul dogter, Hannelize en kleindogter Hania Rose Gerstner. Die gesin woon al 18 jaar in ’n simmetriese wit-muur-groen-dak-huisie. Van fees, kan jy hulle niks vertel nie.

Ons besoek word ingelyf met boeretroos in ’n Wimpy-beker en die tee in netjiese koppies – daardie stel wat jou ouma altyd vir die grênd mense uitgehou het.

Dis egter toe ons van ons planne om die Kangogrotte te besoek vertel, dat ons uitvind hiérdie familie, kan meer as net 18 jaar se jolige feesstories vertel.

“By die Grotte is daar nie veel vernuwings sedert Hein-Jacques daar weg is nie,” vertel Bella.

Hein-Jacques Gerstner, Bella en Hein se seun, is die voormalige bestuurder van die Kangogrotte en het onlangs na Mulu in Maleisië emigreer. Hy is dié Gerstner wie se gesig ek van ’n Carte Blanche-episode herken, omdat hy ’n begrotingskandaal deur die munisipaliteit oopgevlek het. Ek kon die bekommernis nog swaar in die lug sien hang.

Die krisis het in 2014 begin toe die DA vir ’n intervensie gevra is in die Oudtshoorn- en Kannaland-gebiede, as gevolg van wanbestuur deur die ANC-beheerde munisipaliteit. Dit het op die lappe gekom dat die Grotte se 16 miljoen rand-trust wat vir opknapping en onderhoud versamel is, vir munisipale doeleindes misbruik is.

“Hulle [Hein-Jacques, sy vrou en twee seuns] het net hier om die hoek van ons gebly. Hein-Jacques was 22 jaar lank die bestuurder. Mulu was een van die moeilikste besluite nóg – vir hulle én ons. ’n Mens kan amper sê dat hulle moes vlug, omdat sy familie en ons gedreig is. Hy het besef dat hy nooit die eenmanstryd teen die regering gaan wen nie,” bieg Hannelize.

Hein-Jacques het onlangs ’n vyf jaar-kontrak as die bestuurder van die Mulu-Wêrelderfenis natuurreservaat aanvaar waar hy nou sy passie uitleef.

“Juka [Hein-Jacques se jongste seun] wou ’n boer geword het; hy het lammertjies gehad wat hy self gekoop het. Sê my, waar boer jy as jy tussen watergrotte bly? Hy ry nou net fiets,” vertel Hein.

Hy glimlag egter toe Bella met ’n pamflet aankom waarop Juka en sy ouer broer, Gustav, op die voorblad as die ambassadeurs van Curtin Universiteit in Maleisië pronk.

“Gustav vertel net dat hulle die hele tyd afgeneem word, omdat almal daar dieselfde lyk, behalwe hulle,” hou Bella die gemoedere hoog.

Ons besluit die volgende oggend om ons uitstappie met ’n buitelug Karoo-oggend te begin. Tien kilometer buite Oudtshoorn, bied Buffelsdrift Wildreservaat ’n olifantontbyt aan waar jy gesellig saam met die olifante Malaika, Buelo en Jabari verkeer.

Dié drie olifante kom oorspronklik van die Krugerwildtuin waar hulle as kalfies wees gelaat is. Angelo Coetzee, die hoof-natuurbewaarder van dié reservaat, vertel dat hulle besluit het om die drie olifantjies mak groot te maak en nou ’n geleentheid vir die gemeenskap bied om met hulle in aanraking te kom

“Mense is baie bang vir olifante en hulle moet wees, maar hulle is werklik besonderse diere. Ons wil mense bewus maak van stropery en wys dat olifante meer waardevol is as hulle lewendig is.”

Die ontbyt begin met ’n voorstelling van elke olifant. Elke naam is spesifiek gekies: Buelo se naam beteken God van dissipline en hy is die leier tussen, “engel” Malaika en “stoute” Jabari. Ons kry ’n geleentheid om saam met die olifante ’n foto te neem in ruil vir ’n eethappie; dan spog dié drie met allerhande toertjies. Voor die bederfie, word jou skouer met ’n groot, swaar slurp omhels wanneer jou nuwe maat jou met ’n slurpdrukkie groet. Dis egter eers na die voermannewales wat jy vertel word dat daar meer as ’n 100 000 spiere in ’n olifant se slurp is.

Die ontbyt sluit af waar ons in ’n buitelug-lokaal met ’n uitsig oor Buffelsdriftdam om tafels sitplek inneem – gereed vir sjampanje, vrugteslaai, ’n spoggerige quiche-gereg en spek. Saam met ons sit drie Stellenboschers wat ’n studente-reünie hou. Hulle noem hulself “werkende studente”. Jy lag maar net saam, al is dit uit pure onkunde vir die begrip.

Hannelize nooi ons daarna vir ’n masseer-bederfie by haar werk, Pampering for you. Plekkies soos hierdie, geleë in St Johnsstraat is ’n paar treë van Baron von Reede-straat – een van die redes hoekom dit ’n gewilde stoomafblaasbestemming is wat tydens die KKNK deur bekendes soos Kurt Darren en Chris Chameleon gereeld besoek word.

Marina Oosthuizen, die eienaar, sê dat alhoewel die feestyd altyd nuwe gesigte bring, sy die gereelde kliënte met hul lekker geselsies ook baie waardeer.

“Jy bou ’n verhouding met jou lojale kliënte. Een tannie het my ook al aan haar boerseun probeer afsmeer, al weet sy ek is getroud,” lag sy.

Oosthuizen het in verskeie lande soos Engeland en Katar haar towerhande laat werk, maar haar hart klop nog altyd “platteland”.

“Oudtshoorn het my gekies,” glo sy.

Só steel Oudtshoorn besoekers se harte een vir een. ’n Dorp soos dié bied vir jou die beste uit beide wêrelde. As ’n mens dieper in die kamers van die Klein-Karoo krap, ontmoet jy die boeretroos-families wat brand om te gesels; dan luister jy, want hulle hét iets op die hart.

Pityana gebruik die mag van die verlede vir ’n beter Suid-Afrika

Bea Lingenfelder

dav
«

“Dit wat die Swart Bewussynsbeweging vandag is, is gebaseer op die vrae wat oor die verlede gevra word. Dít wat mense herinner aan wat gebeur het.”

Dít is die boodskap wat professor Barney Pityana, professor in emeritus van regte en STIAS-genoot, op Dinsdag 13 September 2016 tydens sy toespraak, Steve Biko and the Black Consciousness Philosophy: a Contribution to South Africa’s system of ideas, in Stellenbosch aan sy gehoor nagelaat het.

Volgens Pityana het hy besluit om tydens sy toespraak op die belangrikheid van vrae te fokus, omdat dit ’n kerneienskap in die analisering en verbetering van ’n probleem is.

“Daar is min materiaal oor Steve Biko en toe begin ek myself vra: ‘maar hoekom is dit so?’ Alhoewel daar strate en sentrums na hom vernoem word, is daar tot vandag toe steeds onsekerheid oor hierdie man,” gaan Pityana voort.

Hy het vertel dat alhoewel Biko nie die stigter van die Swart Bewussynsbeweging was nie, is hy teen 1977 as die stem van hierdie beweging beskou, omdat daar ’n beduidende verbintenis tussen die twee was.

“Biko het ’n eerlike evaluering oor die sosiopolitiese landskap van Suid-Afrika in 1967 gemaak. Hy het ’n samelewing wat as vanselfsprekend aanvaar is, krities begin analiseer en dit bevraagteken.”

Pityana het vertel dat diegene wat volgens hierdie “vanselfsprekende” leefstyl gelewe het, het veroorsaak dat daar ’n afwesigheid in ’n swart betroubare stem was; inteendeel, daar was stilte.

Pityana het hiermee die belangrikheid van die jeug-stem in transformasie beklemtoon.

“Alhoewel dit duidelik is dat daar vandag na ’n vorm van bevryding gestreef word, laat sommige van ons [swart mense] steeds toe dat ons onderdruk word as gevolg van ons velkleur. Ons moet besef dat swartwees nie deur jou velkleur definieer kan word nie, maar eerder deur jou gewilligheid om teenoor ontmensliking op te tree.”

Een van Pityana se kernfaktore ten opsigte van hierdie optrede, is dat daar solidariteit tussen die verskillende generasies moet wees. Hy beaam Biko se stelling dat samewerking ’n enorme bydrae lewer.

“Die gaping wat tussen die generasies oorbrug moet word, lê in die wedersydse afhanklikheid van mekaar. Dit is onmoontlik dat ’n samelewing slegs een denkwyse deel. Dus moet die mag van die verlede aan die nuwe generasie oorgedra word. Studente-bewegings word dikwels onderskat, maar dit bou juis voort op die idees van Biko – daar is geen vryheid in stilte nie.”

Kyk hier vir ‘n blik op Pityana se toespraak:

De Villiers plaas toekoms in studente se hande

dav

De Villiers spreek die studente van die US-joernalistieke departement aan oor hulle rol in transformasie. FOTO: Bea Lingenfelder

-Bea Lingenfelder

Stellenbosch.- Professor Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het Maandag tydens ’n gesprek met die studente van die US-joernalistiek departement die belangrikheid van transformasie en die rol wat die universiteit daarin speel, beklemtoon.

De Villiers het verlede jaar op 1 April sy pos as rektor betree, maar vertel dat hy reeds van 1980 as student by Stellenbosch-proteste betrokke was.

De Villiers het vertel dat as rektor, verskeie studente-protesbewegings moes hanteer, byvoorbeeld ten opsigte van onderrigfooie, die verkragtingskultuur en die taalbeleid.

“Daar is geen handboek vir die hantering van studente-optogte nie en ’n mens maak foute,” het De Villiers gebieg. “Daar bestaan nie iets soos ’n maklike antwoord nie.”

De Villiers het sy mediese agtergrond met die manier hoe hy probleme aanspreek vergelyk, deur te sê dat soos ’n pasiënt met sekere simptome na ’n dokter kom, moet hy daarvolgens behandel word. Daarna word die pasiënt se reaksie op die behandeling evalueer en sodoende besluit of dit werk en of daar ander “medisyne” voorgestel moet word.

De Villiers beskou suksesvolle transformasie as wanneer daar kommunikasie tussen die studente plaasvind.

“Dit help nie ék praat met julle nie, studente moet vir studente dié situasies verduidelik,” beweer De Villiers.

Hy het hiermee die belangrikheid van die SR-verkiesing beklemtoon.

“Die SR het ’n belangrike invloed op die universiteit, omdat hulle die stemme van massas verteenwoordig, maar moet egter nie posisie met mag verwar nie. Die sleutel tot ’n suksesvolle transformasie, is die studente.”

Oor die universiteit se afgelope taaltransformasies het De Villiers hom egter strenger uitgespreek.

“Dit is nie ons verantwoordelikheid om die Afrikaanse taal te beskerm nie, so ook nie Engels of enige ander taal nie. Die universiteit is hier vir ’n beter opvoeding.”

Volgens De Villiers is die tema van die universiteit om die beste moontlike gereedskap vir studente aan te bied, sodat hul elke geleentheid kan aangryp. Hy het verduidelik deur te sê dat die ontwikkeling van werksgeleenthede onvoorspelbaar is en daarom moet die studente toegerus wees vir enige struikelblokke wat oor hul pad kom.

“Ons lei die studente op om lewenslange leerders te wees, maar om ook vir hulle die beste basis te bou vir die wêreld daar buite.”

Regstreekse beeldmateriaal beskikbaar op Periscope en Twitter onder #askwim

ADHD misdiagnosed: Concerta is not the bad guy

ADHD misdiagnosed: Concerta is not the bad guy

Why is it important to diagnose and treat ADHD?

-Bea Lingenfelder

Attention deficit hyperactivity disorder (ADHD) is seen as one of the most important disorders to treat already in childhood, because it is a highly prevalent and persistent problem that can continue into adulthood. There is a big hype about the dangers of Concerta and other stimulants, but the main concern is the accuracy of an ADHD diagnosis, for over diagnosis surfaces more and more commonly.

According to Doctor Whitmore, General Practitioner at Medicross in Brackenfell, there is a specific criteria in making the diagnoses including a questionnaire and several interviews with the patient and family members. (Table 1)

Table 1:

Diagnosis assessment:
–          Family interview
–          Parents as informants
–          The child as informant
–          The Connors’ questionarre

 

However schools, families and even some medical or mental health professionals have become progressively prone to ascribe a variety of problems people exhibit to ADHD which should rather be addressed by alternative mental health interventions or special needs education. Many misconceptions and inaccurate expectations exist by overlooking individuals with other problems including substance abuse, neglect in the home, Obsessive Compulsive Disorder, etc. This leads to a tendency to over diagnose ADHD and inappropriate management or treatment.

“That is why it is so essential to have a specialist to do the evaluation and diagnoses. The person who prescribes it must know your history,” Isabella de Kock, psychiatrist assistant, states.

According to her if the person is properly diagnosed, is it essential to take the medication rather than not to.

“When you are not treated with ADHD, you experience a fractured reality and you are not able to achieve your full potential on academic and social platforms like you should.”

Even though one of the side effects of Concerta is anxiety, not being treated for ADHD can cause just as much anxiety because of your lack of controlling your focus.

Furthermore, De Kock says that untreated ADHD affects many areas of normal development and functioning and can place a child at risk for developing psychiatric and social pathology later in life. Adults often present with disorganization, poor concentration, shifting activities or not finishing projects, all of which have a huge impact on their personal life as well as on their workplace.  Procrastination and intermittent explosive outbursts are also very typical.

Jacques Punt, an ADD undergraduate at Stellenbosch University confirms that since he started to use Concerta, it really helped him to be more productive in class, even though he was only diagnosed at 18 years old.

“My school years were not a walk in the park, even though I do not have hyperactivity. I was not that familiar with the symptoms of ADD and thought that I was just looking for an excuse not to study. I don’t use Concerta every day, but I surely can feel and see the difference.” (Watch his full story in the video.)

However, using Concerta without prescription is not a good idea, because a prescription is targeted for your specific circumstances. It is also not good to use it for something that it wasn’t intended for. For example if you want to use Concerta to stay awake and party all night long, is it not a good idea, because Concerta was not developed for that purpose. (Read more about the misuse of Concerta here)

It is better to be diagnosed early so that you can learn how to cope with the medication’s side effects later in life. You can learn to have control over it.

Kiara de Kock, postgraduate student of the Stellenbosch University is on 54mg Concerta since she was grade seven.

“At the beginning I did experience the common side effects like headaches and irregular sleep patterns, but today I know exactly how to cope. Having the most intense case of ADHD, Concerta truly helps me to get along with not only study purposes, but to live my life like a regular person.”

Whitmore states that it is important to diagnose individuals with ADHD as early as possible, but at the same time it is also important that over diagnosis and resulting inappropriate treatment does not take place.

Concerta can ruin your life just as much as what it can change your life for good.”

Students uninformed of Concerta usage: https://youtu.be/_JvvLb7Rrsk

DSC_3655
Concerta is often accused of causing bad behavioural changes, but it is rather an result of inaccurate treatment. PHOTO: Bea Lingenfelder

Ses skakerings van Tinarie in een fees

Ses skakerings van Tinarie in een fees

Die Boord. – Tinarie van Wyk Loots is moeg. Moeg van die vrou speel wie se man haar verneuk; uitgeput van die vrou speel wat oor en oor verkrag word deur haar geliefkoosde plaaswerkerfamilie; gedreineer van die vrou speel wat Nederland-Poolse Engels moet praat. Haar oë groet groot.

Teatergangers herken Van Wyk Loots se gesig in byna elke verhoorproduksie – veral op die feeste. Die manier waarop sy geleenthede met albei hande aangryp, weerspieël in al die pryse wat sy reeds as aktrise ingepalm het. “Ek’s bitter bevoorreg om iets te doen waarvoor ek so lief is.”

Nico Scheepers, vertaler en regisseur van Hemelruim, noem haar ’n “spokie” wat tussen karakters wissel. Van Wyk Loots lag: “In hierdie jaar se Woordfees is ek beslis skisofrenies, omdat elke karakter wat ek speel, hemelsbreed verskil.”

Paul du Toit, mede-akteur in Hemelruim, vertel hoe Van Wyk Loots een van daardie mense is wat jou altyd op die verhoog sal “vang”.

“Almal maak foute, en ons het daardie vertroue dat as iets gebeur, sal sy my vang, optel en weer teruggooi sodat die dialoog weer kan aangaan.”

Vir Van Wyk Loots is uitputting ’n akteur se grootste vyand: “As jy moeg is, begin jy in jouself twyfel en jou fokus kwyn. As jy ’n fout maak, raak jy kwaad en in hierdie proses distansieer jy jou al hoe meer van opregtheid en eerlikheid teenoor jou span, jouself en jou gehoor.”

Volgens haar verkies sy beslis teater bó televisie. “Teater is heeltyd aan die verander en bly ’n uitdaging wat my dryf.”

Haar grootste ondersteuner is haar geliefde, Erik Holm. Sy wys na haar tatoeëermerk op haar heup. Holm het dieselfde tatoeërmerk. Sy is trots op hul verhouding. “Partykeer raak ek moeg en dan raas hy met my omdat ek so hard werk, maar dan laat hy my net op sy skoot sit en bietjie huil en dan voel ek weer beter.”

Die skrywer, Debora Steinmair, het die toneelstuk Plant vir my ’n boom, André, wat handel oor die verhouding tussen Ingrid Jonker en André P. Brink, vir Van Wyk Loots en Holm geskryf. “Dit is ’n beautiful, gentle and magical uitbeelding van die twee mense se onvolmaakte, tog pragtige liefde,” sê Van Wyk Loots.

Van Wyk Loots sê haar ervaring het gewys sy het drie “reëls” nodig om die toekoms binne te gaan. “Geld, goue tye en wysheid. Ek glo jy moet ten minste een van daai reëls as akteur hê.” – Bea Lingenfelder

(Foto: Bea Lingenfelder)